GETUIENIS

Ek het altyd vasgekyk teen swaarkry en moeilike tye en my lewe so probeer organiseer dat ek meestal net goeie en gelukkige tye beleef. Ek het die fout van my lewe gemaak, want ek het nie die wins in die gebroke deel van die lewe (wat maar elke dag deel is van elke mens se lewe) raakgesien en ontgin nie. Ek het myself verarm. Nou is ek besig met dit wat nooit van my weggeneem kan word nie.

Man, ek was ‘n ou vir min woorde, maar ek kon ‘n ding laat gebeur. My vrou het my teen die mure uitgedryf met haar geneul om tog met haar te gesels en bietjie meer te vertel. Veral as sy aanhoudend aandring om te weet wat ek voel, wou ek sommer skei. Wel, ek praat nou nog nie so baie soos sy nie, maar die blokkasie is uit die pad en die woorde kom makliker. Ek voel so ‘n snaakse vryheid.

Vir die eerste keer verstaan ek presies wat my skeppingsdoel is en wat ek prakties kan doen om dit na te jaag. Daarom het ‘n diepe rus en vrede my lewensbestaan kom vul. My ontevrede gejaag na verhoudinge en dinge kon dit nooit vir my bewerk nie.

Wat ‘n openbaring was dit nie om te kan sien dat ek onbewustelik my lewe lank aangedryf is deur seerkry in my pogings om my lewe so in te rig dat ek veilig kan voel. Ek kon met wyse begeleiding my verlede se seer in die oog kyk, dit hanteer en totsiens sê daarvoor. Ek voel so lig en gesond en sien baie uit na God se toekoms vir my op die ou aarde totdat ek Huistoe gaan, wat dit ook al inhou.

Nou kan ek “nee” sê vir mense en sonde sonder om bang te wees dat ek enigeen van die twee sal seermaak!

Toe ek my eerste werksdag na my mensweesreis die kantoor binne stap begin my kollegas vir my vra wat het gebeur dat ek so anders lyk. Na ‘n paar dae wou meeste van my weet waar was ek die vorige week want ek het baie verander in my gedrag.

“My aggressiewe benadering tot mense en die aanpak van dinge het my heeltemaal begin isoleer van die lewe en my gesondheid aangetas. Die sondige dryfkragte is ontlont en ek weet nou hoe om my aggressie te kanaliseer om God se wil te kan doen, in plaas daarvan om eenvoudig mense en dinge uit die pad te vee of op hulle plek te sit."