Ten spyte van verbysterende vooruitgang, is menswees wêreldwyd besig om vinnig agteruit te gaan. Jy word aangejaag deur tegnologie en media wat nooit tot rus kom nie en jou heeltyd laat voel dat wie jy is, wat jy doen en wat jy bereik het nog nie goed genoeg en reg genoeg is nie. Jou waarde word veelal bepaal op grond van dit wat jy doen, en nie wié jy inherent is nie.

Volwasse Menswees is ‘n geregistreerde nie-winsgewende organisasie wat al vir meer as 21 jaar spesialiseer in menswees-opleiding en -herstel. Duisende mense in verskillende lande getuig van die lewensverandering wat hulle deur die terapeutiese Reis in Menswees-program, die praktiese werkswinkels, welheidsdienste en persoonlike lewensafrigting ondergaan het.

Die belangrikste hunkering, soektog en ontwikkeling van elke mens is ‘n reis om jou ware identiteit te vind, jou Goddelike doel uit te leef en jouself toenemend gesond aan te bied in elke lewensfase en -omstandigheid. Hierdie ontwakende en vormende reis vind plaas in die netwerk van jou vier basiese verhoudings: met God, jouself, andere en die natuur.

Ons Roeping en Oogmerke

Die bevordering en beskerming van gesonde en funksionele individue en gesinne deur om te verseker dat alle gesinslede emosioneel en  volwasse kan funksioneer in hulle gesinsverbande en die breëre samelewing (m.a.w. om verantwoordelikheid te aanvaar vir hulle eie gedrag en positiewe verhoudinge te bou met alle gesinslede asook lede van die breëre samelewing).

Volwasse Menswees poog om individue, gesinne en die samelewing te bemagtig tot gesonde menswees deur die volgende oogmerke na te streef:

  • Die aanbieding van ‘n veeldoelige en omvattende Christelik-terapeutiese mensweeskursus wat persone bemagtig met verantwoordelike selfbestuur, geestelike en emosionele gesondheid, volwasse sosiale verhoudinge, effektiewe konflik-/ trauma hanteringsmeganismes en vaardige gedragsaanpassingsvermoëns.
  • Die toerusting van ouers vir hulle taak om hulle kinders se karakter te vorm en volwasse Christelike gedrag te ontwikkel.
  • Die fasilitering van genesing en heraanpassing vir persone wat emosionele trauma en verhoudingsmisbruik ondergaan het.
  • Die ontwikkeling en opdatering van praktiese vormings-, hérvormings- en genesingsmodelle in sleutelareas van menswees.
  • Die vennootskaplike samewerking met en dienslewering aan plaaslike, nasionale en internasionale organisasies in Suid-Afrika en ander lande wat soortgelyke doelwitte nastreef.
  • Die insluiting van alle persone van verskillende sosio-ekonomiese sektore, agtergrond en status.
2


1